Vandag toe ek opstaan het, het ek besef ons het al so baie goeie vordering gemaak in terme van die wêreld, tegnologie en ontwikkeling. Maar daar is ‘n oordonderende wolk wat heeltyd oor ons hang. Die wolk van die negatiewe. Ons kyk altyd na die dinge wat nie werk nie en wat ons nie meer gelukkig maak nie. Ons besef nie dat omdat ons niks doen oor die goed wat ons pla nie, dit dinge erger maak nie. Ek praat nie van die dinge wat ons van mekaar pla nie, maar die dinge wat ons van onsself pla. Dit begin by die voorbeeld wat ons toon. Dit beïnvloed die pad vir ons samelewing.
Ons soek betekenis in die lewe. Baie van ons wil net hê iemand moet vir ons sê “goed gedoen.” Dit sal net iets beteken as ons dit self glo.
Ek het al baie gedink oor die idee van wanneer ek tevrede sal voel met my lewe en die dinge wat ek gedoen het. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat dit iets is wat natuurlik moet gebeur. Dit kan nie afgedwing word nie. Deur die moeilike, lekker, ongemaklike, en skokkende ervarings in ons lewens besef ons uiteindelik dat ons niks kan verander aan wat reeds gebeur het nie.
Op daardie punt besef ons dat ons gelukkig is met wat ons het en dat ons vorentoe kan gaan. Om beter te wil hê is ‘n menslike eienskap. Dit is wat ons as mensgemaak het en wat die wêreld gevorm het tot wat dit vandag is. Ons kan nie daardie aspek van onsself verander nie. Ons moet net leer om nie heeltyd na die negatiewe te kyk nie. Ons moet leer om verby die wolk te vlieg en die kans te gryp om die sterre te sien.
My gevoelens uit geblêr na ‘n lekker aand saam die familie by ‘n Steve Hofmeyr show. Dis gewoonlik op hoë emosie punte wat ek skryf.